Ope brief aan onbedagsame bure

 

Beste onbedagsame bure,

Ai, ons mis die stilte en rustigheid!

Die buurman agter my is ’n soort mechanic wat saans en naweke boor, grind, swaar ysters laat val, sy krok gestart probeer kry en revs laat optel totdat die motor vrek.

Dan timmer hy ’n bietjie, en sit ’n masjien aan wat klink of dit enige oomblik gaan opstyg.

Die ander buurman het begin bou, vir die afgelope sewe, agt maande nou.

Van sewe-uur is sy werkers op site, die een luidrugtiger as die ander.

Hulle roep na mekaar, hou gesprekke van die voorhek af met hul makkers vêr agter in die erf, alles op normale stemtoon maal nege.

Die hele dag.

Dan daag die lorries met boumateriaal op, die tipper se bak slaat die grond met ’n slag, bakstene en klippe word in die bak gesmyt dat mens dit wie weet waar hoor.

So gaan dit aan, al is die eienaar/bouer tuis.

Ons bly in die laaste straat teen die berg op, waar patryse nog vroegoggend by die voorhekke kom skrop het.

Al geraas wat gepla het was die motorfietsryer wat laatnag oor die spoedhobbels jaag.

’n Woonbuurt is net dit – nie gesoneer vir motor-reparasies nie.

’n Eienaar/bouer en sy werkers is onderworpe aan die bouwet en behoort so toesig te hou dat die bouery nie die hele buurt in rep en roer bring nie.

Intussen sit ons maar agter toe deure, hou die vensters toe teen die onbedagsame geraas en hoop die rumoer hou spoedig op!

Beste groete,

Anoniem

 

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Home renovations on a budget