Andrew Greyling padwedloop belangrik vir stappers

Pretoria Marathon Klub (PMK), een van Pretoria se oudste marathon klubs, bied vanjaar weereens   die gewilde Brooklyn Andrew Greyling Padwedloop aan.

Andrew Greyling was saam met Marcel van’t Slot die stigter en  mede-eienaar van die baie bekende  Run-a-Way Sport. Beide het in tragies omstandighede hulle lewe verloor.  Greyling was ’n baie  veelsydige atleet wat uitgeblink het in padwedlope. Hy was vroeër ook ’n bekende baan- en landloop atleet.

Die wedloop, wat ook vanjaar Atletiek Gauteng-Noord (AGN) se halfmarathn (21.1km) stapkampioenskappe insluit, vind eerskomende Saterdag op 16 September plaas. Dit begin en eindig weereens by die Brooklyn Mall, voor die SARS kantore in Bronkhorststraat.

Voldoende en veilige onderdakparkering sal dus geen probleem wees vir deelnemers nie.  Normale parkeertariewe geld egter, maar daar is 100 gratis parkeerkaartjies vir die eerste 100 aanlyninskrywings.

Die roete van al drie die afstande, naamlik die 21.1km halfmarathon, die 10km padwedloop en die 5km pretdraf vleg deur die boomryke woonbuurte van Brooklyn en Waterkloof. Dit is ’n relatiewe plat en vinnige roete met ’n bultjie of twee op die twee langer roetes.

AGN se halfmarathon stapkampioenskap sal om 05:55 eerste wegspring, terwyl die skoot vir die gewone halfmarathon vir hardlopers en die 10km wedloop om 06:00 sal klap.

Daarna volg die 5km pretdraf om 06:10. Op hierdie pretdraf roete is stootwaentjies en honde aan ’n leiband welkom om deelnemers te vergesel.

Elke atleet wat die verskillende roetes suksesvol voltooi sal ’n medalje ontvang. Daar sal ook ander gelukkige trekkings plaasvind waarmee pryse gewen kan word. Koffie en pannekoek sal oudergewoonte ook vanaf 04:30 vir atlete en ondersteuners te koop aangebied word.

Inskrywings kan die oggend van die wedloop vanaf 04:30 gedoen word by ’n stalletjie langs die Spur in die Brooklyn Mall. Vooraf inskrywings kan egter op www.enteronline.co.za of by die by bekende sportwinkels soos Run-a-Way Sport en The Sweatshop gedoen word.

Vir meer besonderhede skakel Bert van der Raad by 082-922-6817 of bp-sunny@mweb.co.za

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn