Pretoria se eerste superheld: Die AfriForum-man

Die AfriForum-man in aksie. Foto: Yolanda Barnard
Die AfriForum-man in aksie. Foto: Yolanda Barnard

’n Superheld het die afgelope week sy verskyning op sosiale media gemaak en hy laat inwoners gons.

Hy is die geheimsinnige figuur op die voorpunt van die onlangse aksie om van Pretoria se ou straatname te laat herleef.

Hy het superkragte (wat nogal goed vergelyk met Superman), hy het superspoed (wat Speedy Gonzales soos ‘n skilpad sal laat lyk en boonop is hy nie bang om houe na die regering uit te deel nie.

Hy is die AfriForum-man…

Die jeugorganisasie van die burgeregte-organisasie AfriForum was dié week herhaalde kere in die nuus nadat hulle “hul erfenis teruggevat het” en die nuwe Kerkstraat-name met ou bordjies gaan vervang het.

Die AfriForum-man het tydens dié studente-protesaksie sy debuut as superheld gemaak.

Vroeër Vrydagoggend het hy sy verskyning in Zambesi-rylaan gemaak om steun te werf vir die naam Kerkstraat.

“Ek is geskep om weer hoop aan mense te gee,” vertel die held.

“Ek het nie bonatuurlike kragte soos die X-men nie. My kragte is gegrond op suiwer intellek en moed om nie net dinge te aanvaar soos dit is nie, maar om ’n verskil in die land te maak.”

“Ek is die gesig van ons erfenis. Die Afrikaner-erfenis,” vertel hy waar hy in sy superheld-uitrusting in die Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument sit.

Morne Mostert, nasionale koördineerder van AfriForum Jeug, sê dat die AfriForum-man die breinkind van die studente was.

“Net ’n handjievol mense weet wie hy is, maar ons gaan sy identiteit geheim hou.”

“Die AfriForum-man moet iets soortgelyks aan Captain America wees wat hoop vir alle Suid-Afrikaners kan bring. Hy is ’n figuur wat moet opstaan vir die burgerregte van alle mense.”

“Sy superkragte is sy spoed om mense weer bymekaar te bring en sy brute krag om die druk van die regering te kan hanteer.”

“En om weg te hardloop vir die regering,” het AfriForum-man lekker gelag.

Mostert sê hy wil dit duidelik maak dat alle groepe se kulture belangrik is.

“Ons bly by ons standpunt dat die regering een kultuurgroep se regte bevorder ten koste van ’n ander. Daar was nie deursigtigheid met die verandering van die straatname nie.”

Die AfriForum-man gaan die gesig word van dienslewering- en regeringvoos burgers en die jeug gaan eersdaags weer die strate invaar om die nuwe bordjies met ou straatname onder die nuwes vas te maak.

“Die eerste projek het ons sowat R15 000 uit die sak gejaag. Ons het volgende week ’n wegbreeknaweek waar die jeugleiers gaan besluit oor die projekte wat ons die jaar gaan aanpak,” sê Mostert.

“En ek is nie bang vir die Tshwane-metro of die regering nie,” sê die AfriForum-man.

Lees ook:

AfriForum Jeug is rassiste, sê Tshwane-metro na naambordverandering

Bloody paint over Church Street

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Latest News

COMMENTS

pta_moot ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Hatespeachcanclearly_55648
Rassitiese boodskappe steek kop uit by Tuks-koshuis