Kind gebruik in diefstal

Veronica van der Neut. Foto: Kristian Meijer.
Veronica van der Neut. Foto: Kristian Meijer.

‘n Dogter van skaars sewe jaar oud is verlede week gebruik om ’n diefstal by ‘n laerskool in Centurion te pleeg.

Die jong swendelaar het haar rol so goed gespeel dat een van die skool se ma’s haar handsak kwyt is.

Veronica van der Neut sê sy het verlede Donderdagmiddag haar dogter by Laerskool Swartkop in Valhalla gaan oplaai toe sy deur ‘n jong dogtertjie genader is.

Sy meen die kind was tussen vyf en sewe jaar oud.

“Ek het net uit my kar geklim, dit gesluit en my dogtertjie gaan haal by die naskool,” sê Van der Neut.

“Op pad soontoe (na die naskool) het ‘n klein dogtertjie agter my verby gekom… Sy het toe gevra of ek Afrikaans of Engels praat.”

Die vreemde dogtertjie het toe ‘n geselsie met Van der Neut aangeknoop.

Sy wou weet Van der Neut by die skool doen en wie haar dogter is.

Toe sy Van der Neut se dogter naderstap, het die jong swendelaar na haar toe gehardloop en haar omhels.

Van der Neut het haar hand na haar eie dogter uitgesteek sodat hulle saam motor toe kon beweeg.

“Voordat ek dit kon doen, het die vreemde dogter my ook omhels,” vertel die ma.

“[Sy het] my gegryp, vasgehou en ‘n drukkie gegee.”

Van der Neut wou by haar eie kind weet wie die dogter is, maar die vreemdeling het reeds onder haar neus uit verdwyn.

Toe sy uiteindelik weer by haar motor uitkom, het die deur aan die stuurwiel se kant oopgestaan en haar handsak was weg.

“Al my belangrike goed, insluitende my ID-boek, paspoort, beursie en my kar se spaarsleutel, was in my handsak,” sê sy.

“Kort nadat my handsak weg is, het ek SMSe ontvang wat sê dat iemand onsuksesvol probeer het om my kaart te gebruik by ‘n OTM. Ongelukkig kon die bank nie vir my sê waar die OTM is nie want die transaksie was nie suksesvol nie.”

Laerskool Swartkop se hoof, Munnik van der Merwe, sê sulke gevalle is skaars by die skool.

“Die skool se hekke word elke middag oopgesluit wanneer die dag verby is,” sê Van der Merwe.

“Alhoewel ons alles in ons vermoë doen om seker te maak dat almal in die skool veilig is, vra ons steeds dat elke ouer attent moet wees op wat om hulle aangaan.”

Hy sê die skool is besig om kameras aan te bring om veiligheid te verbeter.

“Ons wil ‘n veilige skoolgemeenskap skep. Daarom vra ons ouers om enige eienaardige gedrag by die GPF, die polisie, en ander ouers aan te meld.”

Van der Neut sê sy vermoed die dief het toegang tot haar kar gekry deur haar motorsleutel se afstandbeheer te blokkeer.

Die vreemde dogter is duidelik gebruik om haar aandag af te trek terwyl haar handsak gesteel is.

Sy sê dit is vir haar skokkend dat jong kinders aangewend word om sulke misdade te pleeg.

Sy versoek enigiemand wat haar eiendom raakloop om haar by 079-688-6782 te skakel.

Die diefstal is by die Wierdabrug polisiestasie aangemeld en word ondersoek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
  AUTHOR
Kristian Meijer
Journalist

Latest News

COMMENTS

pta_moot ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Sektorpolisie voorkom kabeldiefstal
Sektorpolisie voorkom kabeldiefstal