‘Ontnugter’ is ontnugter

Ek verwys na Ontnugter se brief in Centurion Rekord, 3 Februarie uitgawe.

Ontnugter is ontnugter omdat die DA nie hul woord gestand doen om die Centurion-meer tot sy eertydse glorie te herstel nie, terwyl hulle na hul oorname baie entoesiasties daaromtrent was.

Die DA was waarskynlik toe nog nie bewus van die werklike omvang van die ANC se nalatenskap nie.

Dit sluit tekorte van R2 biljoen in, duur en ongematigde kontrakte en salarisse aan “spook”-werknemers (Rekord 23 Desember uitgawe).

Daar is ’n hangende hofsaak rakende die oprigting van “Symbio-City” by die meer.

Nog ’n ambisieuse breinkind van die ANC. In 2012 het die benaderde koste daarvan R18.2 biljoen beloop.

Voeg hierby die onnodige uitgawes as gevolg van kabel-diefstal, dan lyk die prentjie nog slegter.

Skrootwerwe betaal R70/kg vir koperdraad as die omhulsel verwyder is.

Onlangs is ’n mini-substasie van 750kg in Witstinkhoutstraat, Centurion gesteel. Die vervangingskoste beloop ongeveer R300 000 (Rekord 3 Februarie 2017 uitgawe).

Dit is verblydend dat die DA onder hierdie omstandighede weldeurdagte besluite neem.

Ontnugter kan gerus aansluit by sy plaaslike buurtwag en aktief betrokke raak by die bekamping van misdaad. Dit beveilig ’n woonbuurt en kan die DA help om die begroting te laat klop.

Helmine le Roux

Doringkloof

 

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Centurion man missing