Boervrou met die goue stem

Al ooit gewens dat jy ’n tweede kans kan kry? ’n Nuwe begin?

Stella se debuut solo-album, Nuwe Môre, verteenwoordig nie net die nuwe rigting waarin haar musiekloopbaan gaan nie, maar is ook iets waarby luisteraars beslis aanklank sal vind.

Die CD bestaan uit twaalf “hoendervleis”-mooi oorpronklike kontemporêre snitte, wat haar gevoelvolle stem komplementeer en selfs die mees kritiese oor in vervoering sal hê.

Dié talentvolle sangeres en liedjieskrywer is beslis geen nuweling in die musiekbedryf nie.

Sy is deel van die gospelgroep, Duis:Lig, wat in 2015 ’n Ghoema-toekenning vir Beste Gospel Album gewen het en onlangs weer dieselfde toekenning ontvang het.

Die groep het ook reeds twee Huisgenoot Tempo-benoemings ontvang.

As sangeres, is sy self ook genomineer vir twee SAMA’s en ’n Huisgenoot Tempo-toekenning onder haar vorige verhoognaam, KrissTel.

Sy het later besluit om saam met die bekroonde vervaardiger en klank-ingenieur, Jake Odendaal ook te begin bou aan ’n nuwe solo-loopbaan.

Odendaal werk al vir die afgelope vyftien jaar saam met kunstenaars soos Joe Niemand, John Ellis van Tree63, Elvis Blue en Joe Foster.

Haar eerste enkelsnit en musiekvideo Nuwe Môre is in April 2016 bekend gestel.

Beide is ongelooflik goed ontvang deur radiostasies, met ’n plek in die top 20 van talle treffersparades, en kan ook gereeld op die kassie gesien word.

Die tweede enkelsnit Deur Die Liefde En Die Seer is pas uitgereik en bou voort op die sukses wat sy reeds bereik het.

“Hierdie liedjie is vir al die paartjies wat klippe kou… Die huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie. Dit is so maklik om perspektief te verloor en heeltemal te vergeet hoekom julle oorspronklik verlief geraak het,” sê sy.

“Dit is belangrik om ’n anker te hê, veral in die moeilike tye! Ek hoop dat dit, wie ook al met die liedjie kan identifiseer, sal help om die mure af te breek en weer te probeer.”

Sy is ook opgewonde oor die vollengte album wat op 28 April bekendgestel is en beskryf dit as modern en kontemporêr met ’n bietjie Pop- en Folk-elemente.

Sy werk al sedert 2013 aan die inhoud.

“Ek wou liedjies insluit wat reflekteer wie ek is as kunstenaar en mens. Dit is ’n nuwe rigting vir my loopbaan en daarom is die titel gepas,” vertel sy.

Stella sê sy het ’n paar van haar liedjies met die hulp van Jake Odendaal geskryf.

“Hy is ’n baie begaafde musikant en liedjieskrywer.

Die grootste uitdaging was om my eie klank te vind. Ek hou van te veel goed en ’n mens moet balans vind tussen jou eie voorkeure en waarvan ander mense sal hou.

Luisteraars kan uitsien na kwaliteit Afrikaanse musiek, met baie diepte en ’n verskeidenheid klanke. Een liedjie verklap nie die res van die album nie. Daar is iets vir almal om mee te vereenselwig.

Ek wil hê dat my musiek mense moet hoop gee, dat dit hulle moet seën en laat goed voel.”

Die Berge Blou is tans haar gunsteling snit, maar sy is ook mal oor Onthou Jy Nog omdat dit haar aan haar kinderdae herinner.

Die album is beskikbaar op alle digitiale platforms, insluitend iTunes, Apple Music, Google Play Music en MiTracks.

Stella, oftewel Christelle Combrink, het in Welkom grootgeword.

Sy was van kleins af lief vir musiek.

“My ouers was en is albei musikaal. My pa het baskitaar en kitaar gespeel en gesing en my ma speel ook klavier en sing. Die huis was altyd vol musiek,” deel sy.

“Ek het al van voorskool af liedjies op die klavier uitgewerk en dan vir my juffrou by die kleuterskool gespeel.”

Alhoewel sy reeds nege jaar professioneel sing en liedjies skryf, het haar groot deurbraak eers gekom toe sy en Hennie Maritz Duis:Lig begin het.

Net soos haar uitsonderlike, veelsydige stem, is Stella ook ’n vrou van vele talente en met baie hooi op haar vurk.

Wanneer sy nie haar lyf musikant hou nie, is sy ook boervrou op ’n plaas in Carolina en ma van ’n agtmaande-oue dogtertjie.

Sy is ook mede-bestuurder van hulle gastehuis en trou-venue, Acorn Guest Farm.

“Ek is bevoorreg genoeg om altwee goed te doen waarvoor ek lief is! Toe ek op die plaas kom, het ek gedroom oor ’n trou-venue (en natuurlik my sangloopbaan) en agt jaar later het albei drome gerealiseer,” borrel sy.

“Dit is vir my lekker om hierdie seëninge met ander te deel.”

Sy beskryf haarself as ’n gemaklike en ontspanne mens wat daarvan hou om haar doel uit te leef.

Sy is mal oor geestelike musiek soos Bethel, Chris Tomlin, Meredith Andrews, Vertical Church en Elevation Worship, maar het ook waardering vir Ed Sheeran, Brandi Carlile, John Mayer, Elvis Blue, Laurika Rauch en Riana Nel.

“’n Kombinasie van al hierdie mense het beslis ’n invoed op my eie musiekstyl,” sê sy.

“Elvis Blue is vir my ’n inspirasie omdat ek baie met hom identifiseer. Ek is ook mal oor hoe hy sy vertonings aanmekaar sit en hoe dit my laat voel. Dit het diepte, dit is lekker, dit is mooi en dit trek my in.”

Die musiekbedryf het haar oor die jare geleer om geduldig te wees en jouself met die regte span mense te omring.

“Ek beleef hoe God vir my al die regte deure oopgemaak het op die regte tyd,” sê sy.

Net soos Hans Christian Anderson, glo Stella dat musiek praat waar woorde nie genoeg is nie.

Vir meer oor Stella volg haar op Facebook https://www.facebook.com/StellaMusiek/, Twitter: @StellaCombrink of Instragram: @stellacombrink

WEN:

Drie gelukkige lesers kan elk dubbelkaartjies na Stella se albumbekendstelling by die Centurion Teater op 7 Junie wen. Gebruik die woord ‘STELLA’ in die sleutelwoord blokkie.

Competition form

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  AUTHOR
Rekord Centurion

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
‘n Splinternuwe Afrikaanse klank