Centurion-inwoners woedend oor rommel

Inwoners van Eldoraigne in Centurion is warm onder die kraag omdat hul woonbuurt nou ’n stortingsterrein geword het.

Hulle kla dat daar niks aan hul pleidooie gedoen word om orde en netheid te handhaaf nie.

Inwoners sê die vullis bring ook ’n oorweldigende stank mee.

’n Woonkompleks in Eldoraigne sukkel nou met ’n plaag rotte en muise wat die gebied oornag binnegedring het.

Inwoner, Reggie Goodwin, sê hy het Maandag vir ’n wandeling gegaan toe ’n stank hom in Hiltonstraat begroet.

“Ek het inspeksie gaan doen en ontdek dat vullis daar gestort is,” het Goodwin gesê.

Dié inwoner sê hy het ook gemerk dat daar ook haarnette en Latex-handskoene tussen plastieksakke lê.

LEES OOK: Kameelperd se oorskot op geslote stortingsterrein gevind

“Die plastieksakke dui aan dat dit aan ‘n ketting-winkelgroep behoort.”

Hy sê benewens die plastiek en ander rommel, was daar ook tuinvullis.

“Ek het nog nooit so iets in ons omgewing gesien nie.”

Goodwin sê aan die einde van Saxbystraat het hy ’n plakkershut met ongeveer vier bewoners teëgekom.

“Dit is ’n oop veld en die hut is duidelik sigbaar.”

Nog ’n inwoner, Jannie Swanepoel, is die josie in omdat mense die sypaadjie voor sy kompleks gebruik om drankbottels te stort.

Swanepoel het Dinsdagoggend op ’n smerige sypaadjie afgekom en sê hy kan dié onbedagsaamheid nie meer verduur nie.

Hy sê daar word bykans daagliks drankbottels in die tuin op die sypaadjie gegooi.

LEES OOK: Groot skoonmaak by onwettige Rooihuiskraal-stortingsterrein

“Dit is verskriklik erg en niemand doen iets nie. Ek het al probeer om mense aan te spreek, maar dit help niks. Ek is raadop.”

Swanepoel sê sy kompleks is op die hoek van Frederik- en Marthastraat.

Die strate word deur afleweringsvoertuie as kommersiële roete gebruik word.

“Dit is soms so erg dat die afleweringsvoertuie dit onmoontlik maak vir ander voertuie om in of uit te beweeg,” kla hy.

“Ek het al probeer om met die mense wat hulle skuldig maak te praat, maar dit help nie.”

Hy sê nog ’n bron van kommer is mense wat vuurmaak op die sypaadjie in die winter.

“Om sake te vererger, is daar ’n elektriese kas op die sypaadjie. Dit kan mos gevaarlik wees en groot skade aanrig as daar ’n brand sou uitbreek.”

Swanepoel sê hy het al by die raadslede gaan aanklop om hulp, maar geen oplossing in nog in sig nie.

LEES OOK: Nog ‘n onwettige stortingsterrein in Centurion

Wyksraadslid, Cindy Billson, sê rommelstrooiing is een van vele probleme wat die woonbuurt ervaar.

Billson sê daar is inwoners en ondernemings wat hulle skuldig maak aan die onwettige strooi van rommel.

“Daar is reeds waarskuwings uitgereik en ondersoek word ingestel om vas te stel wie die skuldiges is.”

Billson vra inwoners om hul oë oop te hou vir oortreders en die skuldiges onverwyld aan te meld.

Sy sê opsies word ondersoek vir ’n permanente oplossing en versoek mense om met idees vorendag te kom.

Billson doen ’n beroep op inwoners om ’n gemeenskapsvergadering by te woon wat handel oor randsteen-herwinning.

Die vergadering is daarop gemik om ’n plan te maak met rommel wat op sypaadjies gestrooi word.

Billson glo mense wat herwinbare items versamel, kan munt uit hierdie projek slaan.

“Ek glo ons kan baie meer mense betrek as ons dit vanuit ’n herwinbare oogpunt bekyk word,” sê sy.

“Alle plastiek kan herwin word en so kan iemand ’n paar rand vir homself verdien.”

Die vergadering word op 22 November om 18:30 by die NG gemeente Wierdapark gehou.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Jason Milford

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Pta’s top weekend stories